Saturday, February 19, 2011

As tegnologie nie saakmaak nie...











Verbeel jou 'n wereld sonder televisie, rekenaars, motors, elektrisiteit, wasmasjiene... 'n Wereld waar kinders net tot graad 8 skool toe gaan (ek weet van 'n klomp kinders wat hiervoor sal gaan!) en daarna leer om ambagte te doen. Waar die uitdagings van die vrouens se dag hoofsaaklik bestaan uit huistake soos onder meer groente en vrugte verwerk en inle, klere maak (alles wat almal dra - behalwe die skoene en kouse!), kinders versorg en grootmaak (en daar is gewoonlik ten minste 5 of 6) en wasgoed was met 'n tuisgemaakte dubbel-balie. Die mans is hoofsaaklik verantwoordelik vir die boerdery.

Dit is die Amish gemeenskap van die klein dorpie Arthur, Illinois. Ons het vandag die voorreg gehad om in hulle vreedsame wereld in te loer. Hier waar dit nie gaan oor wat jy het nie, maar wie jy werklik is. Waar godsdiens en die gesin eerste kom. Waar mense werklik vir mekaar omgee en waar waardes nog saakmaak...
Ons het ook by 'n ander gesin gaan middagete eet. En wat 'n feesmaal: tuisgebakte brood met "apple butter", sewe-laag slaai, "mash potatoes", "sweetcorn", so 'n brood en sous gereg, frikadelle en gebakte hoender. Vir nagereg was daar "peach pie" en "peanut cream pie". Ai, die koolhidrate...

Daarna het ons 'n besoek gaan afle by die Arthur gemeenskapsbiblioteek. Hier kom meeste van die gebruikers uit die Amish gemeenskap uit. Uitleenkaarte word nie aan individue uitgereik nie, maar wel aan elke familie, aangesien dit nogal 'n proses is om 'n hele gesin (wat nogal baie groot kan wees) se boeke te hernu - veral as die paaie toegesneeu het!


Ons het oppad terug gestop by die Tanger Outlet by Tuscola, Illinois waar ontwerpersklere teen afslagpryse verkoop word.
Baie moeg, in die bus oppad terug, het ek diep hier binne saggies dankie gese vir my wasmasjien, mikrogolf, rekenaars, kar en veral vir my werk...

No comments:

Post a Comment