Monday, February 28, 2011

Chicago en al daai JAZZ

Indien ek dalk bietjie stil was die laaste paar dae, daar was 'n rede voor... Ek bedoel, dis nou nie elke naweek wat ek myself in Chicago bevind nie!

Chicago is 'n baie groot stad met 'n interessante geskiedenis, langs die groot, uitgestrekte Michigan meer. Dit staan bekend as die windy city - nie regtig oor die weer nie, maar eerder om politieke redes. Wanneer jy om jou kyk, sien jy net wolkekrabbers. In Chicago kan jy die nostalgie van die vroee jare in al die geboue, strate en busse aanvoel. Die enigste musiek wat ek hier gehoor het was Swing, Jazz en Blues.

Dit het gesneeu toe ons hier was - en dit was Kersfeeskaartjie mooi!

'n Naweek in Chicago sal nie volmaak wees sonder om na regte Chicago Jazz te gaan luister nie. En dit het ons inderdaad Donderdag-aand gedoen toe ons by Andy's Jazz Club & Restaurant gaan eet en kuier het.
Dan is daar ook die Blues wat net so eie is aan Chicago. En wat 'n ondervinding was dit nie om by The House of Blues se unieke, kunstig versierde blues - tema restaurant te gaan eet het nie!

Omdat ons slegs Saterdag-oggend vir besigtiging gehad het, het ons op die Hop-on - Hop-off bus geklim om soveel moontlik in ons beperkte tyd in te pas. Ek en Naomi het ook na die Skydeck , Willis Tower gegaan en 1 353 voet bo die grond, 360 grade uitgekyk. Ongelukkig was dit 'n bewolkte dag - so ons kon nie baie ver uitkyk nie - maar, miskien volgende keer...
Daarna was ons Millenium park toe waar ons onsself van onder die "boontjie"-struktuur beskou het. Argitektuur en kuns is belangrike aspekte in Chicago en dit is ook duidelik in die ongelooflike uitstallings by die Art Institute en die Cultural Center. Daar is net soveel dinge om te sien en te doen! Ek wou nog gaan shop het in die Magnificent Mile en uitgehang het by die eetplekke in Michigan Avenue - of die Chicago teater of die indrukwekkende afdelingswinkel, Macy's gaan besoek het! Daar was net soveel dinge om te doen - en net hopeloos te min tyd!



















Wednesday, February 23, 2011

Braaivleis, sneeu en meer...








Dis toe nou nie net in Suid-Afrika waar ons braai nie! Sondag-aand het ons groep by Susan, ons Mortenson Centre gasvrou gaan eet. Haar man het hoender, salmon en wors gebraai - en dit was inderdaad baie lekker gewees! Met slaaie, brood en brownies en pound cake vir poeding - mmm, heerlik!

Tog is daar iets van die Amerikaners waarmee ek my net nie kan vereenselwig nie - en dit is weggooibare plastiese bekertjies en papierborde. Kyk, ek drink nie eers wyn uit 'n koeldrankglas nie, so, glo my, dit is inderdaad 'n marteling om dit uit 'n plastiekbekertjie te sluk!

Maandag en Dinsdag het ons 'n werkswinkel gehad waarin ons van verskillende persoonlikheidstyle geleer het. Ek het uitgekom as 'n "influencer" - dit kom daarop neer dat ek hou van mense en dat ek baie optimisties en entoesiasties is en ook daarvan hou om ander te motiveer. Ek is egter baie ongeorganiseerd en sukkel om by deadlines en timelines te bly - met laasgenoemde is hulle in die kol!

Vandag het ons 'n lesing oor projekbestuur gehad en na middag-ete 'n lesing oor copyright - hier het ek nogal geworstel om my oe oop te hou!

Net toe ons begin dink het die lente is hier, toe begin dit gister-oggend liggies te sneeu! Vandag was die eerste dag wat ek werklik baie koud gekry het. More gaan ons Chicago toe - tot Saterdag-middag. Volgens die weather channel kan ons ook daar sneeu verwag.

Ons tydjie in Illinois raak nou min - maar ek sien uit na California volgende week - dit is immers warmer daar...

Saturday, February 19, 2011

As tegnologie nie saakmaak nie...











Verbeel jou 'n wereld sonder televisie, rekenaars, motors, elektrisiteit, wasmasjiene... 'n Wereld waar kinders net tot graad 8 skool toe gaan (ek weet van 'n klomp kinders wat hiervoor sal gaan!) en daarna leer om ambagte te doen. Waar die uitdagings van die vrouens se dag hoofsaaklik bestaan uit huistake soos onder meer groente en vrugte verwerk en inle, klere maak (alles wat almal dra - behalwe die skoene en kouse!), kinders versorg en grootmaak (en daar is gewoonlik ten minste 5 of 6) en wasgoed was met 'n tuisgemaakte dubbel-balie. Die mans is hoofsaaklik verantwoordelik vir die boerdery.

Dit is die Amish gemeenskap van die klein dorpie Arthur, Illinois. Ons het vandag die voorreg gehad om in hulle vreedsame wereld in te loer. Hier waar dit nie gaan oor wat jy het nie, maar wie jy werklik is. Waar godsdiens en die gesin eerste kom. Waar mense werklik vir mekaar omgee en waar waardes nog saakmaak...
Ons het ook by 'n ander gesin gaan middagete eet. En wat 'n feesmaal: tuisgebakte brood met "apple butter", sewe-laag slaai, "mash potatoes", "sweetcorn", so 'n brood en sous gereg, frikadelle en gebakte hoender. Vir nagereg was daar "peach pie" en "peanut cream pie". Ai, die koolhidrate...

Daarna het ons 'n besoek gaan afle by die Arthur gemeenskapsbiblioteek. Hier kom meeste van die gebruikers uit die Amish gemeenskap uit. Uitleenkaarte word nie aan individue uitgereik nie, maar wel aan elke familie, aangesien dit nogal 'n proses is om 'n hele gesin (wat nogal baie groot kan wees) se boeke te hernu - veral as die paaie toegesneeu het!


Ons het oppad terug gestop by die Tanger Outlet by Tuscola, Illinois waar ontwerpersklere teen afslagpryse verkoop word.
Baie moeg, in die bus oppad terug, het ek diep hier binne saggies dankie gese vir my wasmasjien, mikrogolf, rekenaars, kar en veral vir my werk...

Research Libraries Consortium trip to USA

Research Libraries Consortium trip to USA

Friday, February 18, 2011

Aan die einde van ons eerste week...

Dit is vandag presies ‘n week nadat ons hier aangekom het. Vandag was ons Purdue toe. Op die RLC blog is daar meer oor my indrukke hieroor(http://salibraryacademy.blogspot.com/). Ek moet ook bieg, voordat ek gekom het, het ek nogal gewonder wat kan die Amerikaners ons nou regtig leer. Maar, ek is werklik stomgeslaan oor wat ons al geleer het. Hierdie mense het net die vermoe om probleme anders aan te spreek en hulle luister werklik na die behoeftes van hulle gebruikers. Ons het inderdaad al ongelooflik baie geleer!
Nog 'n fout wat ek gemaak het, was om soveel warm klere in te pak. Noudat die sneeu begin smelt het, word dit lekker warm. Selfs al is dit soms koud en winderig buite, is al die geboue binne baie warm. Ek hoop maar die heerlike warm weer wat ons gister en vandag gehad het, hou aan die hele naweek. Toe ons hier aangekom het, was alles toe onder die sneeu – nou het die sneeu gesmelt en kan mens ewe skielik sien waar koringlande en damme is!

Kyk, ons word behoorlik soos VIP's hier behandel! Het so ewe 'n limosine waarmee ons rondgery word!
Ons is nou behoorlik tuis in Champaign en ken selfs al die busroetes na die beste winkelsentrums. Ons is al tuis in die koffie shops, en weet al dat jy byvoorbaat vir 'n small koffie vra - tensy jy natuurlik baie dors is! Hulle brownies is inderdaad iets spesiaal en hulle peanut cookies en chop chip cookies is ook aan te beveel. 'n Scone is nie 'n botterbroodjie waaraan ons gewoont is nie, maar eerder 'n baie soet muffin. Hulle kos is oor die algemeen baie soet en hulle porsies groot.
Ons het gister-aand na 'n Jazz uitvoering in die Krannert Centre op die kampus gaan kyk. Baie van die universiteit se personeel en studente kuier hier saam terwyl opkomende kunstenaars die geleentheid kry om op te tree en hulself bekend te stel. Daar was ook 'n wyn-proe geleentheid - en baie lekker kaas en beskuitjies! Dit is lekker om betrokke te raak by die aktiwiteite op kampus. Ek sal graag wil probeer om Sondag hier na 'n kerkdiens toe te gaan en dan wil ek nog na basketball of ice hockey game gaan kyk...
So many things to do....



Tuesday, February 15, 2011

Naweek in Champaign

Onthou julle daardie dag wat die Blou Bulle teen die Cheetahs op Loftus verloor het? Wel hier het ek dieselfde emosies gesien (ek dink selfs erger). Op ons roete na die kampus is die Illinois Assembly Hall. Sondag is hier toe 'n "Mens Basketball game" tussen Illinois en Perdue gespeel. Alhoewel dit 'n "noon game" was, het die karre al van vroeg af opgedaag. Ons het egter later die middag, na die wedstryd, weer hier verby gestap. Dit was behoorlik die teenoorgestelde gesig as wat ons vroeer die oggend gesien het - Illinois het verloor... dit was inderdaad 'n somber prentjie!

Ons sal graag in die tydjie wat ons hier is na 'n wedstryd van een of ander aard wil gaan kyk.

Ons is nou al heel gemaklik met die busroetes en winkelsentrums in die dorp. Die klere hier is vir my baie mooi en meeste is op "special"- party tot soveel as 75% afgemerk! Die parfuum en skoonheidsprodukte is ook heelwat goedkoper as wat ons betaal (wens ek het meer plek in my tas gehad!)

En die mense is regtig baie vriendelik en behulpsaam. Wanneer mens vir rigting aanduidings vra, begin meeste sommer 'n heerlike gesprek met jou!

Sondag-aand het ons by Barbara, die direkteur van die Mortenson sentrum gaan eet. Haar "apartment" is snoesig (veral met die snneu buite) en daar is die mooiste ornamente en muurbehangsels wat sy met haar reise reg oor die wereld bymekaar gemaak het. Hier het ons baie lekker Meksikaanse kos geeet en Suid-Afrikaanse wyn gedrink. Ons het ook genetwerk met van die ander biblioteekpersoneel.

En so kom ons eerste naweek in die grote VSA tot 'n einde. More begin ons program en ek sien baie uit daarna!

Ek maak verskoning vir die gebrek aan foto's - (probleempie met die aflaai, maar sal baie stuur sodra dit uitgesorteer is)

Sunday, February 13, 2011

Logistiek, sekuriteit en Champaign

Ek het altyd gese ek weet nie regtig wat ek eendag wil word nie, maar ek weet wel van twee beroepe wat ek nooit sal wil word nie: 'n verpleegster en 'n prokureur. Maar na die twee dae wat ek op lughawens en in vliegtuie gespandeer het, sou ek graag 'n logistieke bestuurder by hierdie lysie wil voeg! Ek dink die ou (of vrou) wat verantwoordelik is vir die beplanning van skedules en prosedures op lughawens behoort die wereld se beste betaalde werknemer te wees, want boete, jy moet goed wees!

Na 'n heerlike middagete en 'n vergadering waar ons bietjie touwys gemaak is oor "hoe die Amerikaners dinge doen", is ons groep-van-nege sak en pak na "International check-ins". Meeste het deur gegaan sonder enige probleme, maar die dametjie wat my en Naomi (een van ons groeplede) se inboeking gedoen het, het nie regtig gelyk asof sy weet wat sy doen nie en ek het 'n nare gevoel gehad dat my bagasie en ek dalk nie op Champaigne (ons eindbestemming) gaan uitkom nie. Maar, dit vir eers daar gelaat...

Ek glo nie Naomi sal my kwalik neem as ek hierdie, wat ek nogal as komies beskou het, insident met julle deel nie:
Terwyl ons besig was om in te boek, lyk die dame wat ons gehelp toe mos baie verward. Volgens haar lyk dit asof ons net tot by Chicago gaan en nie verder aan tot by Champaign nie. Sy beleef toe egter 'n helder oomblik en kry ons Chicago - Champaign vlug, maar se dit nie. Sy vra egter "What do you want for your flight?", bedoelende 'n venster sitplek of 'n paadjie sitplek. Naomi, wat toe al moedeloos verduidelik is dat sy net wil in Champaign uitkom, hoor "Where do you want to go?" en antwoord so ewe "Champaign". Miskien sou 'n vonkeldrankie op die vliegtuig die ding gedoen het!

Ten spyte van 'n baie lekker sitplek heel agter in die paadjie, was die 17 uur lange vlug nie die gemaklikste wat ek al gehad het nie. Eerstens was die wereld se stoutste kleuter en sy sussie so 'n paar rye voor ons. Met nog 'n paar ander kleuters op die vliegtuig wat ook so af en toe gehuil het, het dit gevoel of die geluid van huilende kinders vir 17 ure, sonder ophou net aan en aan en aan gegaan het! Verder het die "flight map" nie gewerk nie, en met die tydverskille was dit behoorlik 'n verrassing toe die vlieenier aankondig ons oor 'n halfuur gaan land!

Ons is ingelig dat die Amerikaners se sekuriteit baie streng is, maar glo my, as alles in die VSA groter is, dan oortref hulle sekuriteit prosedures dit inderdaad! Soos doelgerigte werkersklas miere is ons in rye ingedwing, vrae gevra, en behoorlik geondersoek - selfs jou skoene moet uitgetrek word wanneer jy deur die "scanners" gaan! Maar ons is geduldig daar deur sonder enige probleme!


Atlanta was ons eerste stop. Hier het ons ook dan ongeveer 6 ure deurgebring, voor ons vlug na Chicago (foto hier lansaan). Chicago het pragtig gelyk vanuit die lug - spierwit sneeu net waar jy kyk. Vanuit die lughawe gebou kon ons die sneeuflokkies sien val en verskeie vliegtuie is vertraag weens sneeu. Vir 'n nooi wat gebore en getoe is teen die sonskynkant van die Magaliesberg, was dit nogal 'n belewenis om die heel eerste keer in my lewe sneeu te sien!
Ons laaste trek was 'n 45 minute vlug vanaf Chicago tot by Champaign.








Uiteindelik in Champaign! Groot was my vopgewondenheid toe ek en my tas mekaar gevind het. Sunette, Fiona, Biziwe en Solvej se tasse het egter eers die volgende dag hier aangekom!








Nou is ons in Champaign en sien uit na 'n opwindende tydjie hier...

Tuesday, February 8, 2011

Voorbereiding...

Dis nou net meer as 2 maande sedert ek gehoor het ek is een van die nege uitverkorenes wat op 'n leerervaring (learning experience) na die VSA gaan. Moet sê, ek dink dit begin nou eers tot my deurdring. Aan die een kant is ek baie opgewonde oor die "avontuur" wat wag, maar, aan die ander kant is ek nogal bietjie bang. Ek weet ek gaan ongelooflik baie leer en soveel plekke sien! Maar ek gaan my mense geweldig mis...


Daarom, is die doel van hierdie blog tweeledig. Eerstens wil ek elke dag se wedervaringe hierop neerpen en soveel van my ervarings met al my vriende en familie deel. Ek wil hê julle moet deel wees van hierdie wonderlike avontuur. Maar, dan is hierdie blog ook my manier om "in touch" te bly en in my eie taal en op my manier te kan praat en gedagtes te kan uitruil. Hier wil ek my emosies deel - as ek lag, wil ek dit saam met julle doen, maar as ek te veel verlang, wil ek hê julle moet dit weet, sodat julle vir my 'n ekstra gebedjie kan opsê...


Ons vertrek Donderdag, 10 Februarie vanaf O R Tambo met 'n direkte vlug na Atlanta. Hiervan sal ek later in meer detail vertel. Intussen is daar nog soveel dinge om te doen. Maar, ek stress nog nie, want daar is nog baie tyd om te pak en dingetjies reg te kry - ek werk mos maar op krisisbestuur!
Op die foto hier langsaan sit ek en Sunette, my kolega, in my kantoor, besig om te werk aan ons aanbieding. Sunette en ek is UP se verteenwoordigers. Sy is die inligtingkundige vir Ingenieurswese.
Nou ja, kyk uit interessante nuus in die volgende paar weke!