Monday, May 16, 2011

Terug in Suid-Afrika!

Na tagtig dae in die VSA het ek Maandag, 2 Mei veilig aangekom in Johannesburg. Dit was wonderlik om vir Dries, Bianca en Andre weer te sien!























Nou is ek terug by die werk. Ek het baie geleer en beleef; baie nuwe vriende en professionele kontakte gemaak; nuwe idees gekry en kennis opgebou ...

















Hier is nog (vir oulaas) 'n paar foto's van die laaste week in Davis toe ek my aanbieding gedoen het en die afskeidsgeselligheid wat die biblioteek vir my gehou het. Die ander foto's is geneem op Atlanta lughawe tydens die (lang) terug-vlug na Suid-Afrika!


Dankie dat julle saam met my die VSA beleef het.

Tuesday, April 26, 2011

Lake Tahoe


















Byna tagtig dae in die VSA - kan julle glo!

Ja, die tyd het vinnig verby gegaan en ek het ongelooflik baie geleer, gesien en beleef, maar, ek dink dit is nou tyd om huis toe te gaan. Veral, nadat ek verlede naweek een van die mooiste plekke in die wereld besoek het, voel ek dit was alles die moeite werd. Kom ek vertel julle van Lake Tahoe...


















In Davis is dit nou lente en sonnig en bedags kan ek al somersklere dra. Lake Tahoe is in die berge, ongeveer 2 ure se ry vanaf Davis, California. Dit is ongeveer 7000voet bo seespieel, en dus heelwat kouer as die laerliggende Davis. Hier is sneeu , baie sneeu. Daar was huise waar ons verby gery het, waar die sneeu hoer as die huise self was. En dan is daar rye en rye Denne plantasies. En dan, die diepblou meer. Dit is net onbeskryflik mooi.














Hier is ook verskeie ski oorde waar mense van regoor die VSA kom vakansie hou.



Net voordat ek uit Suid-Afrika vertrek het, was daar 'n besoekende veearts by ons op Onderstepoort. Sy was toevallig van UCDavis af. Sy is nou terug in Davis, en het my genooi om saam met haar en haar man vir die naweek Lake Tahoe toe te gaan. Ons het in vriende van hulle se vakansiehuis gebly.







Saterdag het ons al om die meer gery en plek-plek gestop vir foto's. Ons het later die middag "snowshoeing" gedoen - mens trek sneeuskoene aan en loop op die sneeu (maklik, ne!) Dit was baie lekker - al het ek 'n paar keer op my agterstewe geland (gelukkig was die sneeu sag!). Sondag was ons rustig, want dit het baie gesneeu. Met die terugry het ons 'n ander roete gery en het ek my weereens verwonder aan die mooi natuurskoon.
































Saturday, April 16, 2011

Piekniekdag by UC Davis



Die UC Davis Piekniekdag is 'n tradisie wat reeds in 1909 begin het, met 'n piekniekfees vir die opening van 'n nuwe "university barn". En 'n fees is dit steeds!




Die universiteit en gemeenskap werk saam om hierdie dag spesiaal te maak vir almal. Dit begin vroeg met 'n pannekoek ontbyt, gevolg deur die parade. Hier neem almal aan deel - van die verskillende fakulteite tot die plaaslike busdiens! Dan is daar allerande interessante dinge wat regoor die kampus aangebied word - van kokkerot resies, tot geleenhede om bokke te melk; wyn proe, kos proe en heuning proe tot polisie demonstrasies; 'n Doxie Derby (met Duchshunde) en waterpolo; modeparades, "horse breeding demonstrations" - noem dit en dit is hier! Daar is demonstrasies en praatjies, uitstallings, sportbyeenkomste, musiek en baie kos!













Ek was by die parade en daarna is ek na die veld waar allerande honde dinge was. Ek het lekker gelag vir 'n kompetisie waar Border Collies drie skape in 'n kraaltjie moet injaag. Daar was ook verskeie honderasse op skou. Die mooiste vir my was die "Great Pyrenees" honde - groot, wit honde wat amper soos 'n reusagtige Labrador lyk met baie lang hare!


Daarna is ek na die rugby. Ja, hier op Davis het hulle inderdaad 'n rugbyklub! Davis het teen Cal Poly gespeel - en net na rustyd was die besoekers 17 - 5 voor!


Ek het ook 'n draai by die Biblioteek gemaak - wat ook vanaf 11:00 - 13:00 oop was met spesiale Piekniekdag uitstallings en dienste. Daarna het ek vir my 'n lekker roomys gaan koop en na die Mexikaanse musiekgroep geluister wat op die "East Quad Stage" opgetree het.


Ek het toe die veearts van hier wat onlangs in Suid-Afrika was hier raakgeloop, en ons is toe na Lake Spafford waar die "Battle of the Bands" aangebied is. Vier orkeste van verskillende universiteite kompeteer teen mekaar vir die orkes wat die langste kan aanhou speel, sonder om enige stuk wat gespeel word te herhaal. My gunsteling was UC Irvine se orkes - hulle tema was "Fantacyland" en hulle het regtig mooi gespeel. Ek is egter so 16:00 se kant daar weg en die orkeste hou glo aan tot na 22:00.


Wat my egter ook opgeval het, was dat ek nie een papiertjie of gemors gesien rondle het nie. Die terrein is as 'n "waste free area" verklaar - en niemand mors nie! (Kan net nie dink dat dit in Suid-Afrika sal werk nie!).


Daar was baie kinders, honde en lawwe studente! Inderdaad 'n lekker dag vir almal!

Friday, April 15, 2011

San Francisco





Vandat ek in California aangekom het, wou ek al San Francisco toe gaan, maar, weens die reen, is ek telkens afgeraai. Toe ek egter terugkom, na my besoek aan Philadelphia en New York, was California se lente behoorlik hier met sonskyn en bitter min wolke in die lug!


Dit was uiteindelik toe net die regte weer vir my om San Francisco toe te gaan! Sondag-oggend is ek baie vroeg na die Amtrak onder weg na San Francisco! Reeds met die eerste myl wat die trein Davis verlaat het, het my avontuur begin om 'n nuwe wereld te ontdek. Ek was nou al met die trein Sacramento toe, maar dit is die teenoorgestelde kant en hierdie was 'n nuwe omgewing vir my.


Soos ek al telkens genoem het, is Davis hoofsaaklik bekend vir sy boerdery bedrywighede. En behalwe vir die stalle op die Veeartsenykunde kampus en die baie produkte op die "Farmersmarket", het ek nog nie regtig plase gesien nie. Die plase hier is baie mooi - gesonde landerye, John Deere trekkers en die mooiste groen weivelde met swart, gesonde beeste (hier en daar is 'n paar bruines ook). En daar is baie water - ek dink net die Davis omgewing het meer water as die hele Suid-Afrika!


Ek het afgeklim by die Ferry Building en daar by 'n "coffeeshop" wat uitkyk oor die hawe, 'n koppie koffie en 'n pampoenmuffin geeet. Toe is ek reg vir die dag en het al langs die waterfront langs opgestap na Pier 39. Hier is baie oulike winkeltjies, restaurante en die vet, lui seeleeus wat in die son le en bak en "sing" - want jy hoor hulle voor jy hulle sien!


In een van die winkels het ek amper weer bewoe geraak toe ons eie sokker liedjie "It's time for Africa" (waka-waka) in een van die winkels gespeel het en ek vir 'n oomblik gewens het ek was terug op eie bodem!


Ek het toe van hier af aangestap na die Fisherman's Wharf en die Fort Mason park area - nogal 'n steil paadjie op - maar ek kon pragtige foto's van die Golden Gate brug van hier af neem. Daarna het ek bietjie deur 'n woongebied gestap, 'n vinnige draai in Chinatown gemaak en toe weer terug na Pier 39 vir 'n laat middagete. Ek kon nie glo die tyd het so vinnig verby gegaan nie, en net voor 5 uur is ek weer terug.


Ek het nie gedink ek sou San Francisco so gou weer sien nie, maar gister (Donderdag) het ek inderdaad weer die geleentheid gehad, toe die "faculty librarian" van die Carlson Health Sciences library, waar ek hierdie week deurbring, my genooi het om saam met haar UC San Francisco te gaan besoek. Dit is net 'n mediese kampus en hoofsaaklik net nagraadse studente in medies, tandheelkunde, aptekerswese en verpleegkunde en fisioterapie. Hier is 'n pragtige, moderne biblioteek met die beste fasiliteite. Hulle het onlangs die tweede vloer van die biblioteek opgegradeer en ingerig vir klaskamers met die nuutste tegnologie, 'n "technology commons" waar daar videos en "podcasts" en allerande tegnologiese goed gemaak kan word, en dan het hulle 'n "state of the art" simulasie area. Hierdie area lyk en voel soos 'n regte hospitaal met ondersoekkamers, teaters, ICU's, ongevalle afdeling, ens. Hulle gebruik modelle (poppe) wat soos regte mense lyk en wat deur 'n afstandbeheer deur die dosent gemanipuleer kan word om bv. te huil, of te bloei of op 'n sekere manier te reageer. Hulle kry ook van tyd tot tyd akteurs om as modelle op te tree. Baie indrukwekkend!


Nou ja, wie weet, miskien sien ek San Francisco gou weer....

Saturday, April 9, 2011

New York, New York!

Wat se mens van New York? Hoe som jy een van die wereld se grootste stede in 'n paar woorde op?







Laat ek so probeer begin: New York is inderdaad baie groot - veral as jy so uit die vertrekkende vliegtuig daaroor terugkyk. Dit is behoorlik deur water omsingel en mens sien nie gewone, voorstedelike huise nie: net baie hoe geboue. Die mense wat hier in Manhattan bly, bly in, wat van buite af lyk na, oninteressante, kleinerige "apartments" - wat glo geweldig duur is.
Maar, dit wat ons al in die flieks gesien het, sien jy inderdaad hier: die baie geel taxis, die subways (eintlik sien mens dit nie, jy weet net dit is daar onder erens), baie, onvriendelike, haastige mense - meestal in donker korporatiewe snyerspakke met aktetasse, besig om besigheid te praat op hul "Blue tooths" of besig om 'n bagel te koop vir 'n vinnige ontbyt so in die hardloop.

Dan is daar die baie ontwerperswinkels in 5th Avenue: Prada, Elizabeth Arden, Tiffany and Co, Calvin Klein, Gucci, Armani...ek het al daarvan gehoor, maar kon dit nog nie regtig bekostig het nie... Maar daar is darem ook Chinatown wat meer bekostigbaar is en Little Italy, SOHO en die winkels in die Garment district.


Besienswaardighede is daar baie. Dinsdag het ons 'n juis bustoer gehad wat ons na van die belangrikstes geneem het - die Empire State building en die Rockerfeller gebou, Statue of Liberty, Central Park, Wall street, die 9/11 terrein en Time Square. Verskeie kulturele besienswaardighede kan besoek word en dit is inderdaad 'n uitdaging om te besluit watter Broadway show om te gaan kyk - hier het ek ongelukkig op uitgemis - van die ander lede van ons groep het na Phantom of the Opera gaan kyk, maar ek en my groepie het op die verkeerde subway geland en was toe te laat! Ons was darem by die American Museum of Natural History en by die New York Public Library. Daar is 'n groot verskeidenheid kunsmuseums en biblioteke in die stad.


Dis moeilik om nie gewig op te tel in New York nie. Die kos is "to die for"en die wyn vanuit die boonste rakke! Ons het onder andere Spaanse en Ierse cuisine, meer informele geregte by 'n "brewery" restaurant, die "famaous New York cheesecake" en pizza en bagels gehad.


Dit spyt my egter om julle mee te deel dat ek, behalwe vir 'n moontlike afstammeling van Lassie, en Micky Mouse en Sesame (ek dink) geen ander celebrities gesien het nie - nie eers in 5th Ave of Central Park nie! Ons het darem president Obama se helikopter (en ek dink so 75% van die polisiemag) vanaf 'n afstand gesien land.


New York was inderdaad 'n (groot, nee, BAIE groot) belewenis!

Die Wanamaker orrel in Macy's


Musiek het nogal die vermoe om maklik trane in my oe te bring. So vind ek myself telkens in trane wanneer ek hier vanuit California na "U eie keuse" op my internet RSG luister of as dieselfde radiostasie Theuns Jordaan of Juanita du Plessis of enige ander Afrikaanse musiek wat my aan die huis herinner speel. So, kon ek ook nie anders as om 'n traan of twee te stort toe die pragtige orrelklanke die bedrywige mode-afdelingswinkel, Macy's vir 'n paar minute gevul het nie!

Macy's is amper soos ons Edgars. Dit is 'n gesofistikeerde mode afdelingswinkel wat al vir baie jare deel is van die Amerikaanse gesin. Veral in die ouer en groter stede, soos Chicago en Philadelphia, kan mens sommer dadelik die gevoel kry dat dit 'n belangrike rol in die stylvolle, ryk huisvrouens van die vyftiger en sestiger jare se (sosiale) lewens gespeel het - nie alleen om uitrustings vir spesiale geleenthede te kom koop nie, maar ook vir sosiale aktiwiteite - soos die spesiale tee en koek kuiertjies in die Macy's restaurant - so tussen die inkopies-doen deur! Ek meen, dis harde werk om klere te koop - veral met die verskeidenheid wat aangebied word! Net die dames afdeling van Macy's in New York is 8 vloere vol!


Macy's in Philadelphia lok egter ook toeriste vir ander redes as die groot verskeidenheid modes- die Wanamaker Orrel. Hierdie orrel, ontwerp deur George Ashdown Audsley van die Los Angeles Art Organ Company, het 'n lang en interessante geskiedenis. Elke dag, behalwe Sondae (ironies, ne?), om 12:00 en 17:30 kan mens na gratis uitvoerings, van so ongeveer 30 min lank, op die orrel luister.


'n Aanhaling uit die New York Times beskryf dit soos volg:


"Suddenly, organ music fills the space... Powerful, full-throated, intricate...it pours from golden pipes arrayed at one end of the atrium. Heads snap up. Chills travel up and down spines. 'Can you see it?' asks a woman, peering upward. 'Can you see the Organ?'"


As daar nou een ding is wat Philadelphia vir my spesiaal gemaak het (behalwe die ACRL konferensie, natuurlik), is dit die orrel in Macy's...

Tuesday, April 5, 2011

Philadelphia

Philadelphia was een van die hoogtepunte van ons VSA belewenis. Nie alleen is die ACRL konferensie een van DIE konferensies vir akademiese biblioteke nie, maar dit was ook 'n geleentheid waar ons groep van nege weer bymekaar was - en glo my, dit was wonderlik om weer Afrikaans te kon praat!




Ons het almal Maandag vanaf ons verskillende plekke in Philadelphia aangekom en kon Dinsdag eers bietjie "sight seeing" doen in Phili. Ons het weer die "Hop on - Hop off" bus toer gedoen, wat 'n goeie oorsig oor die stad se belangrikste toeriste aantreklikhede gegee het. So was ons by die "Independence National Historical Park" en "Liberty Bell" en het verskeie ander historiese plekke gesien.


Die konferensie was baie interessant. Ek het Woensdag 'n werkswinkel getiteld "Innovation bootcamp" bygewoon en dit uiters leersaam en kreatief gevind. Dit was 'n groot konferensie met meer as 3000 bywoners en baie interessante sprekers. Daar was verskeie sessies wat gelyktydig aangebied is, en dit was partykeer moeilik om te besluit watter een om by te woon. Soos wat mens van 'n Amerikaanse konferensie sou verwag, was daar heelwat meer uitstallers as wat ons by konferensies in SA sien, en hulle was nogal kreatief met hulle bemarking! So was daar byvoorbeeld Oscar, die "charming" robot. Ek weet nou nog nie hoe sy "kop?" werk nie, maar toe ek en Naomi (oorspronklik van Stellenbosch) daar verby stap, toe roep hy my (spreek nogal my naam mooi reg uit). Hy begin toe met ons gesels - vra die gewone, bv waar kom julle vandaan, watter taal praat julle (ons kry nogal baie hierdie navraag, agv ons duidelike Afrikaanse aksent), ens. Die outjie was nagal heel "pittig" en as ek nie geweet hy 'n robot (soos bi-di-bi-di van jare gelede op die TV) was nou, sou ek gedink het hy probeer by ons aanle! Hoe dit ookal sy, toe ons groet, vra hy toe hoe se mens "thank you" in Afrikaans. Ons se toe "baie dankie ", en hy se toe ewe: "no, I don't want to buy - a - donkey!"


Saterdag-middag was ons weer bietjie af, nadat die konferensie klaar gemaak het. Ek en Sunette het in "Antique Row" gaan stap. In Washington Square, 'n park daar naby, het ons op 'n groep mense afgekom, wat eers soos 'n optog gelyk het. Eers toe ons nader stap, het ons besef dit is 'n "massa kussingeveg". Eers op die TV nuus die volgende oggend, het ons gehoor Amerika het nasionale kussingeveg dag gevier die Saterdag.


Nou is ons in New York. Kyk uit vir die volgende "posts" oor al ons avonture hier in Manhattan!