Sunday, March 27, 2011

Nog 'n opwindende naweek in Davis!

Vrydag was 'n vakansiedag in California en die UCDavis studente het hierdie week "Spring Break" gehad, so dit was nogal rustig op die kampus. Die dorp is egter toegesak deur Veeartsenykunde studente met die SAVMA 2011 simposium wat vanaf Donderdag tot Saterdag hier aangebied is. Selfs die hotel waar ek bly was baie lewendiger as gewoonlik.



Ek het ook vir Robert Taylor van CAB (in Engeland) hier raakgeloop. Hy was een van die uitstallers by die konferensie. Ek het toe Donderdag-aand saam met die mense van CAB by 'n Thai restaurant gaan eet. Hy stuur groete vir almal op Onderstepoort!


Vrydag het ek saam met ander "librarians" van die Shields Library die Napa vallei wynroete gaan besoek. Dit was wonderlik. Dit is so mooi daar - lyk amper soos die Stellenbosch / Franschoek omgewing. Ons het 'n paar ongelooflike mooi wynplase besoek en die wyn is regtig baie lekker. Ons het 'n wonderlike middagete by die Rutherford Grill gehad. Dit was net 'n ongelooflike lekker dag!


Saterdag - oggend het ek bietjie gaan inkopies doen, en Saterdag-aand het ek na die St. Petersburg Philharmonic Orchestra by die Mondavi Center gaan luister. Hulle het Rimsky-Korsakov, Shostakovich en Brahms uitgevoer. Alisa Weilerstein was die solis op die cello. Sy was ongelooflik en het die hele Shostakovich: Concerto for Cello No. 1, Op. 107 uitgevoer sonder bladmusiek. Die ancore was Elgar se "Enigma variation". Dit was regtig besonders - ek was amper in trane, so mooi was dit!


Wel, nou moet ek weer pak, want more-oggend is ek weer oppad Philladelphia toe vir die ACRL konferensie.

Sunday, March 20, 2011

Sondag - middag by die Mondavi

Wat 'n lekker middag was dit! Gail en Sandy, hier by die Shields Library het my genooi om saam met hulle na 'n vertoning by die Mondavi center te gaan kyk. Dit was 'n vertoning gemik op jonger kinders, maar ek dink hulle ouers en oupas en oumas het dit selfs meer geniet!

Die vertoning was deur Dan Zanes and Friends met die UCSan Francisco Gospel Choir as gaskunstenaars. Hulle het bekende volksliedjies, kinderliedjies en 'n paar gospel liedjies gesing en gedans. Die orkes het bestaan uit instrumente soos kitare, 'n paar viole, dromme, 'n accordion, banjo en 'n mandolien! Die musiek het behoorlik die kinders en hulle ouers aan die dans gehad en die gehoor het hulle gate uit geniet!

Na die vertoning het ons by 'n Japanese restourant in die dorp gaan Sushi eet - dit was van die lekkerste sushi wat ek nog geeet het.


Nou is die naweek verby, en more-oggend begin 'n nuwe week. Soos in Suid-Afrika, is dit ook 'n kort werksweek. Vrydag is César Chávez Day in California. Ek is deur kollegas van die Shields Library genooi om Vrydag saam te gaan Napa vallei toe - ons gaan weer wyn proe!

Week 2 in die Shields Library


Die doel van my besoek aan die VSA is hoofsaaklik om te leer by die Amerikaners. Met twee weke van waarneem en gesels met "librarians" hier, is daar inderdaad al verskeie idees, wat ek hoop, ons sal kan implimenteer in ons biblioteek. Ek woon ook baie vergaderings by. Waar ek aanvanklik maar soos 'n toeskouer gevoel het, begin ek nou die baie akkronieme wat hulle gebruik te verstaan, ken ek ook al baie van die mense en begin begryp ek hoe dinge hier werk.


Hulle is werklik hard getref deur die globale ekonomiese krisis, en op elke vergadering speel die "budget" 'n belangrike rol. Wat hulle egter goed doen is om te "collaborate" en die tien kampusse van die University of California deel verskeie produkte, verdeel take tussen hulle en werk baie nou saam met die oog op koste besparing, werksverdeling en vereenvoudiging van werksprosesse. Ek dink ons kan veral hier baie leer.

Daar is egter 'n paar aspekte waar ons hulle voor is. Toe ek met hulle metadata-kundige gesels het oor hulle e-tesisse en digitale versamelings, was het verbaas om te sien hoeveel prosesse nog nie in plek is nie. Ons kan werklik trots voel oor ons digitale produkte en veral ons wersvloei wat in plek is en baie meer eenvoudig bestuur word.

Vrydag het ek die "UC Davis Health Informatics 5th Annual Conference" bygewoon. Ook hier is die "buzz words" "collaboration" en "Multi disciplinary appraoches". Die tema was "change management" en hoewel die fokus in die mediese wereld was, glo ek dit is net so toepaslik in die biblioteek wereld.

Ek het ook personeel van die mediese en veeartsenykunde biblioteke hier ontmoet. Die laaste twee weke van my tyd in Davis gaan ek by hierdie biblioteke deurbring.








Ek heg ook fotos van die kunswerke in die Shields Library hierby aan. Daar is ongelooflike mooi kunswerke en foto versamelings in die biblioteek. Hulle beplan om "QR codes" wat na beskrywings en verdere inligting op die webblad "link" by elke skildery, foto of beeldhouwerk aan te bring. Ek dink dit is 'n briljante idee.

'n Renerige Saterdag in Sacramento


Die afgelope twee Saterdae was ek Sacramento toe en ek dink dis nou tyd om ander omgewings te gaan verken! Tog, met die baie reen hier in California die afgelope week, is ek (weereens) afgeraai om San Francisco toe te gaan. Nou, wat doen ek dan?

Amy Kautzman, die "Associate University Librarian for Humanities and Social Sciences" het aangebied om die wynroetes net buite Sacramento vir my te gaan wys - en wat is nou lekkerder as wyn-proe op 'n renerige Saterdag-middag!

Ek moet erken, California se wyn vergelyk nie te sleg met ons Suid-Afrikaanse wyne nie! Ons was eerstens by die Old Sugar Mill in Clarksburg, California, waar mens wyn van 6 wynmakers kan proe. Nie ver hiervandaan af nie, is 'n kleinerige, maar baie mooi landgoed, die Bogle Vineyards. Ek het regtig baie van hulle wyn, veral die Merlot gehou. Die wyn by albei plekke waar ons was, was verbasend goedkoop en ek wens ek kon meer koop om saam te neem Suid-Afrika toe!


Ons het daarna net rondgery en ek het my verkyk aan die mooi plattelandse omgewing. Hier is ongelooflik baie water - kanale en riviere waarlangs jy ry. Op een stadium het die omgewing my nogal herinner aan die wynplase langs die Oranje rivier daar in die omgewing van Kanon-eiland / Keimoes rond in die Noord Kaap.




Op ons roete het ons vinnig aangedoen by 'n klein dorpie, Locke. Dit is 'n dorpie wat deur Chinese vir Chinese in die omgewing gebou is. 'n Pragtige, historiese plekkie met baie klein, amper - vergete Chinese winkeltjies en restaurante.







































































































































Sunday, March 13, 2011

St. Patrick's Day Parade















Lyk my hier in die VSA is St. Patrick's Day 'n groot geleentheid. Vandat ons hier aangekom het (en dit is al 'n maand gelede), is daar al groen versierings en spesiale items vir hierdie dag wat op 17 Maart gevier word.

My beplanning was om gister (Saterdag) met die trein San Francisco toe te gaan, maar met die gerugte van tsunamies, het ek besluit om bietjie van my beplanning af te wyk, en is toe weer Sacramento toe. Daar aangekom het ek toe meer na die middel dorp toe gestap en later ook weer deur die rustige tuine by die State Capitol gebou gedrentel.




Later is ek toe weer na Old Sacramento en dis hier waar ek my toe vasloop in die parade. Wat 'n belewenis was dit nie! Ek het my nie slegs verkyk aan die mense met allerande kostuums, verskeie motors (van antiek tot sportmotors) die orkeste en perderuiters wat aan die parade deel geneem het nie, maar ook aan die mense wat hulle ondersteun het! Soveel passie het ek nog nie eens by die Blou Bul ondersteuners waargeneem nie!





Ek het ook lekker rustig in die klein winkeltjies rondgeloop en persentjies vir die mense by die huis gekoop.

Later die middag is ek weer met die trein terug na Davis.

My werkplek...

Ek kan nie glo die eerste week by die University of California, Davis is nou reeds verby nie - maar dis goed, want ek begin nou baie huis toe te verlang.

Ek was baie besig met 'n volbelaaide skedule. Die eerste twee dae was ek in die "Department Humanities, Social Sciences and Government Information Services". Dit was inderdaad interessant, veral as mens in ag neem dat meeste van die mense in hierdie afdeling PhD's het in die vakgebiede wat hulle bedien. Tussen hulle is hulle 'n groot aantal tale (veral Europese en Oos Europese tale) magtig.

Ek was oorweldig deur die waardevolle versamelings in hulle "Special Collections" afdeling. 'n Groot gedeelte van die versameling fokus op die geskiedenis van die Amerikaanse weste. Omdat hulle baie fokus op landbou het hulle ook baie versamelings wat op landbou fokus. Daar is onder andere 'n versameling van handleidings vir alle moontlike trekkers. Hulle kry glo daagliks navrae hiervoor van trekker eienaars reg oor die wereld.

Vrydag het ek 'n besoek afgele in hulle stelsels afdeling.

Ek het ook 'n kantoortjie in die biblioteek - nou nie "state of the art" nie, maar daar is darem baie spasie om te werk - en lekker oop rakke. My program is egter so vol, dat ek nie regtig baie tyd hier spandeer nie.

Ek sien uit na die volgende week op UC Davis.

Monday, March 7, 2011

"Dinner for one, please"

Ek het my eerste werksdag agter die rug hier in Davis. Dit was lekker en ek moet se, my kop voel dof van die inligtingoorlading. Ek het ook vanoggend my "introduction presentation" gelewer - en ek dink dit het goed gegaan. Die mense hier is baie vriendelike en lekker om mee saam te werk. Ek dink ek gaan baie hier leer, maar almal is ook baie belangstellend oor hoe ons dinge doen. Om die waarheid te se, dink ek daar is sekere afdelings waar ons hulle 'n stappie voor is, bv. ons elektroniese tesisse versameling - hulle is nou eers in die begin stadium hiervan.

Davis is 'n baie lekker dorpie, maar ek dink juis omdat dit so 'n lekker plek is, verlang ek meer na my mense. Dit is nou maar net so: ek hou van mense om my!
Vannaand het ek by die Caffe Italia, hier op die hotel perseel gaan eet. Ek moet se, die pasta wat ek geeet het, was heerlik en die wyn baie lekker. Die geselskap was net nie so goed nie (all by myself...)

Saturday, March 5, 2011

Sacramento

Na my uitstappie na die mark, is ek toe met die bus Sacramento toe. Inderdaad elke blaas op my voete werd!

Net om die draai vanaf die stasie, is die Westfield Downtown Plaza. Omdat ek nogal lanklaas in 'n "mall" was (Davis het meer spesialiteitswinkels), het ek hier deur gestap en by Macy's vir my 'n somerstoppie gekoop.








Hiervandaan is ek toe na Sacramento Old Town. Hiernatoe wil ek defnitief weer gaan. Dit is die historiese deel van Sacramento en herinner my nogal aan Pelgrimsrus. Hier is ook baie winkels met 'n historiese tema, soos die "General dealer" en die heerlikste lekkergoed winkels. Hier en daar is ook 'n winkel met aandenkings en "arts & crafts" van die Amerikaanse Rooihuide. Ek het op oulike John Deere ornamente afgekom, en as dit nou nie so swaar was nie, sou ek vir Dries daarvan gekoop het!
Soos wat mens sou verwag, is daar ook baie eetplekke. Dit lyk my ook asof dit die plek is wat die manne met die motorfietse kom besoek op hulle "Breakfast runs", want dit het amper gelyk soos by die Hartebeespoortdam op 'n Sondag-oggend!
Ek het ook langs die "Waterfront" af gestap tot by die groot, geel Tower Bridge.

Daarna is ek na die State Capitol museum. Dit is 'n museum, maar ook die California regering se kantore. Ek het nie hier in gegaan nie, maar wel deur die pragtige tuine gestap. In die tuin was ook nartjiebome, vol oranje nartjies. Al die geboue in Sacramento waar ek verby gestap het, het mooi, netjiese, goedversorgde tuine.
Ek het van hier af nog verder deur die dorp gestap en later 'n koppie koffie en 'n pampoen muffin geeet by 'n klein koffiewinkeltjie. Omdat ek nie heeltemal seker was hoe laat die trein weer na Davis toe sou vertrek nie, en is toe maar terug stasie toe - was toe in elk geval net betyds!

Ek gaan beslis weer hierdie uitstappie Sacramento toe doen. Daar is nog soveel ander plekke en museums wat ek wil besoek - en nou weet ek hoe die treine soontoe werk.

Markdag...

Behalwe vir die universiteit, is Davis ook bekend vir sy boerderygemeenskap - inteendeel, die universiteit het begin as 'n landbou kollege.

Elke Saterdag - oggend is daar 'n boeremark in 3de straat in die dorp, die Davis Farmers market. Ek was vanoggend net na 8:00 daar. Dit is net soos ons boeremarkte of soos 'n kerkbasaar. Daar hang die heerlikste geur van kos in die lug en almal loop en eet en kuier. Die mense hier is regtig baie vriendelik. Almal wil gesels (nes boere maar is) en mens moet net nie lyk of jy belang stel om iets te koop nie - dan begin hulle kuier. Ek het egter ook nog die probleem dat ek duidelik met 'n nie-Amerikaanse aksent praat, en dit "trigger" dan noodwendig 'n gesprek in "Oh, where are you from?" en dan moet ek of verduidelik waar Suid-Afrika is, of hoor "My great grandmother came from South Africa" of selfs "My brother once went out with a girl from South Africa". Iemand het selfs gevra "It is near Kenia, right?".

In elk geval, hierdie belangstellende geselsies het gemaak dat ek toe daar weg is met 'n bottel versamelaarswyn en 'n peer!

Thursday, March 3, 2011

Davis

Davis is een van die mooiste plekke wat ek nog gesien het! Dit het 'n atmosfeer: jy voel die dorp, ruik dit, sien dit, hoor dit...
Ek het gister-aand in Davis, California aangekom en die onmiddelike vierkante kilometer om my hotel vanoggend per voet gaan ontdek. Die klimaat is soos Nelspruit - alles is groen en die mense het die mooiste tuine! Die winkels wat ek die meeste gesien het, was hardewarewinkels en tuinsentrums (dis nou as jy nie al die restaurante by tel nie!) Daar is duisende restaurante - en almal lyk anders - en so spesiaal. Daar is byvoorbeeld 'n Italiaanse restourantjie met pizza oonde tussen die tafels. Etenstyd sit almal op straat in die restaurante en eet - en daar hang die lekkerste reuk van geurige kos orals waar jy loop. Van die plekke speel meditireense / mexikaanse musiek en almal lyk ontspanne - ek kon net sowel in 'n vakansiedorp gewees het!




Hier is baie honde. Hulle stap saam met hulle base en wag buite die winkels ewe rustig. Die eerste tien minute van my stap het ek reeds 3 motors met honde (2 was wit "Labbies") op die voorste sitplekke in gesien - weet nie of hulle oppad is dagmoeder / speel-skool toe nie!


Meeste studente in die dorp ry fiets - die res stap. Daar is ook busse (seker vir die studente met baie boeke) en ek moet se, daar is heelwat motors. Vir nog ontspanning is daar heelwat flieks (veral vir so 'n klein dorpie), kunsgallerye en boekwinkels. Daar is nie baie "supermarkte" nie. Ek het wel 'n Co-Op ontdek. Dit is 'n samestelling van 'n tuisnywerheid, gesondheidswinkel, supermark en wyngallery - van laasgenoemde is daar egter die meeste! My gasvrou hier by die biblioteek, Helen, het my vanmiddag na 'n sentrum hier naby geneem vir inkopies. Daar is 'n Saveway - laat my nogal dink aan ons Checkers en ook 'n Rite Aid Pharmacy (soos Clicks). Hier het ek vir my 'n haardroeer gekoop, want die een in my hotelkamer blaas te flou (en met die huminiteit hier het ek windkrag nodig om ontslae te raak van die "waves").










Gepraat van my hotelkamer - dit is regtig pragtig. Dit is op die grondvloer. Wanneer jy instap is daar 'n klein sitkamertjie met 'n lessenaar waar ek op my rekenaar werk en 'n plasmaskerm TV teen die muur. Dan kom jy by die kombuis wat toegerus is met 'n wasbak, yskas, tweeplaatstoof, mikrogolfoond, koffie filter en die nodige skottelgoed. Die slaapkamer is groot met 'n koningin grootte bed, kaste, 'n blad met wasbak en GROOT spieel en hier is ook 'n plasma TV teen die muur. Die badkamer het 'n bad en stort bokant die bad, en wasbak en natuurlik 'n toilet en ook 'n groot spieel. Die lekkerste is dat wanneer mens in 'n vertrek instap, dan gaan die ligte aan - ek moet net nog uitvind hoekom dit nie weer afgaan wanneer ek uitstap nie!

More gaan ek die kampus ontdek en die biblioteek personeel ontmoet. Ek dink ek gaan lekker werk hier!