Sunday, February 13, 2011

Logistiek, sekuriteit en Champaign

Ek het altyd gese ek weet nie regtig wat ek eendag wil word nie, maar ek weet wel van twee beroepe wat ek nooit sal wil word nie: 'n verpleegster en 'n prokureur. Maar na die twee dae wat ek op lughawens en in vliegtuie gespandeer het, sou ek graag 'n logistieke bestuurder by hierdie lysie wil voeg! Ek dink die ou (of vrou) wat verantwoordelik is vir die beplanning van skedules en prosedures op lughawens behoort die wereld se beste betaalde werknemer te wees, want boete, jy moet goed wees!

Na 'n heerlike middagete en 'n vergadering waar ons bietjie touwys gemaak is oor "hoe die Amerikaners dinge doen", is ons groep-van-nege sak en pak na "International check-ins". Meeste het deur gegaan sonder enige probleme, maar die dametjie wat my en Naomi (een van ons groeplede) se inboeking gedoen het, het nie regtig gelyk asof sy weet wat sy doen nie en ek het 'n nare gevoel gehad dat my bagasie en ek dalk nie op Champaigne (ons eindbestemming) gaan uitkom nie. Maar, dit vir eers daar gelaat...

Ek glo nie Naomi sal my kwalik neem as ek hierdie, wat ek nogal as komies beskou het, insident met julle deel nie:
Terwyl ons besig was om in te boek, lyk die dame wat ons gehelp toe mos baie verward. Volgens haar lyk dit asof ons net tot by Chicago gaan en nie verder aan tot by Champaign nie. Sy beleef toe egter 'n helder oomblik en kry ons Chicago - Champaign vlug, maar se dit nie. Sy vra egter "What do you want for your flight?", bedoelende 'n venster sitplek of 'n paadjie sitplek. Naomi, wat toe al moedeloos verduidelik is dat sy net wil in Champaign uitkom, hoor "Where do you want to go?" en antwoord so ewe "Champaign". Miskien sou 'n vonkeldrankie op die vliegtuig die ding gedoen het!

Ten spyte van 'n baie lekker sitplek heel agter in die paadjie, was die 17 uur lange vlug nie die gemaklikste wat ek al gehad het nie. Eerstens was die wereld se stoutste kleuter en sy sussie so 'n paar rye voor ons. Met nog 'n paar ander kleuters op die vliegtuig wat ook so af en toe gehuil het, het dit gevoel of die geluid van huilende kinders vir 17 ure, sonder ophou net aan en aan en aan gegaan het! Verder het die "flight map" nie gewerk nie, en met die tydverskille was dit behoorlik 'n verrassing toe die vlieenier aankondig ons oor 'n halfuur gaan land!

Ons is ingelig dat die Amerikaners se sekuriteit baie streng is, maar glo my, as alles in die VSA groter is, dan oortref hulle sekuriteit prosedures dit inderdaad! Soos doelgerigte werkersklas miere is ons in rye ingedwing, vrae gevra, en behoorlik geondersoek - selfs jou skoene moet uitgetrek word wanneer jy deur die "scanners" gaan! Maar ons is geduldig daar deur sonder enige probleme!


Atlanta was ons eerste stop. Hier het ons ook dan ongeveer 6 ure deurgebring, voor ons vlug na Chicago (foto hier lansaan). Chicago het pragtig gelyk vanuit die lug - spierwit sneeu net waar jy kyk. Vanuit die lughawe gebou kon ons die sneeuflokkies sien val en verskeie vliegtuie is vertraag weens sneeu. Vir 'n nooi wat gebore en getoe is teen die sonskynkant van die Magaliesberg, was dit nogal 'n belewenis om die heel eerste keer in my lewe sneeu te sien!
Ons laaste trek was 'n 45 minute vlug vanaf Chicago tot by Champaign.








Uiteindelik in Champaign! Groot was my vopgewondenheid toe ek en my tas mekaar gevind het. Sunette, Fiona, Biziwe en Solvej se tasse het egter eers die volgende dag hier aangekom!








Nou is ons in Champaign en sien uit na 'n opwindende tydjie hier...

1 comment:

  1. Hi Grietjie kind hoop jy geniet elke oomblik,stuur asb foto's. Hier in die wes transvaal gaan dit goed almal rond en gesond.
    Liefde Deon Heyla & kids

    ReplyDelete