Tuesday, April 5, 2011

Philadelphia

Philadelphia was een van die hoogtepunte van ons VSA belewenis. Nie alleen is die ACRL konferensie een van DIE konferensies vir akademiese biblioteke nie, maar dit was ook 'n geleentheid waar ons groep van nege weer bymekaar was - en glo my, dit was wonderlik om weer Afrikaans te kon praat!




Ons het almal Maandag vanaf ons verskillende plekke in Philadelphia aangekom en kon Dinsdag eers bietjie "sight seeing" doen in Phili. Ons het weer die "Hop on - Hop off" bus toer gedoen, wat 'n goeie oorsig oor die stad se belangrikste toeriste aantreklikhede gegee het. So was ons by die "Independence National Historical Park" en "Liberty Bell" en het verskeie ander historiese plekke gesien.


Die konferensie was baie interessant. Ek het Woensdag 'n werkswinkel getiteld "Innovation bootcamp" bygewoon en dit uiters leersaam en kreatief gevind. Dit was 'n groot konferensie met meer as 3000 bywoners en baie interessante sprekers. Daar was verskeie sessies wat gelyktydig aangebied is, en dit was partykeer moeilik om te besluit watter een om by te woon. Soos wat mens van 'n Amerikaanse konferensie sou verwag, was daar heelwat meer uitstallers as wat ons by konferensies in SA sien, en hulle was nogal kreatief met hulle bemarking! So was daar byvoorbeeld Oscar, die "charming" robot. Ek weet nou nog nie hoe sy "kop?" werk nie, maar toe ek en Naomi (oorspronklik van Stellenbosch) daar verby stap, toe roep hy my (spreek nogal my naam mooi reg uit). Hy begin toe met ons gesels - vra die gewone, bv waar kom julle vandaan, watter taal praat julle (ons kry nogal baie hierdie navraag, agv ons duidelike Afrikaanse aksent), ens. Die outjie was nagal heel "pittig" en as ek nie geweet hy 'n robot (soos bi-di-bi-di van jare gelede op die TV) was nou, sou ek gedink het hy probeer by ons aanle! Hoe dit ookal sy, toe ons groet, vra hy toe hoe se mens "thank you" in Afrikaans. Ons se toe "baie dankie ", en hy se toe ewe: "no, I don't want to buy - a - donkey!"


Saterdag-middag was ons weer bietjie af, nadat die konferensie klaar gemaak het. Ek en Sunette het in "Antique Row" gaan stap. In Washington Square, 'n park daar naby, het ons op 'n groep mense afgekom, wat eers soos 'n optog gelyk het. Eers toe ons nader stap, het ons besef dit is 'n "massa kussingeveg". Eers op die TV nuus die volgende oggend, het ons gehoor Amerika het nasionale kussingeveg dag gevier die Saterdag.


Nou is ons in New York. Kyk uit vir die volgende "posts" oor al ons avonture hier in Manhattan!

No comments:

Post a Comment