Saturday, April 16, 2011

Piekniekdag by UC Davis



Die UC Davis Piekniekdag is 'n tradisie wat reeds in 1909 begin het, met 'n piekniekfees vir die opening van 'n nuwe "university barn". En 'n fees is dit steeds!




Die universiteit en gemeenskap werk saam om hierdie dag spesiaal te maak vir almal. Dit begin vroeg met 'n pannekoek ontbyt, gevolg deur die parade. Hier neem almal aan deel - van die verskillende fakulteite tot die plaaslike busdiens! Dan is daar allerande interessante dinge wat regoor die kampus aangebied word - van kokkerot resies, tot geleenhede om bokke te melk; wyn proe, kos proe en heuning proe tot polisie demonstrasies; 'n Doxie Derby (met Duchshunde) en waterpolo; modeparades, "horse breeding demonstrations" - noem dit en dit is hier! Daar is demonstrasies en praatjies, uitstallings, sportbyeenkomste, musiek en baie kos!













Ek was by die parade en daarna is ek na die veld waar allerande honde dinge was. Ek het lekker gelag vir 'n kompetisie waar Border Collies drie skape in 'n kraaltjie moet injaag. Daar was ook verskeie honderasse op skou. Die mooiste vir my was die "Great Pyrenees" honde - groot, wit honde wat amper soos 'n reusagtige Labrador lyk met baie lang hare!


Daarna is ek na die rugby. Ja, hier op Davis het hulle inderdaad 'n rugbyklub! Davis het teen Cal Poly gespeel - en net na rustyd was die besoekers 17 - 5 voor!


Ek het ook 'n draai by die Biblioteek gemaak - wat ook vanaf 11:00 - 13:00 oop was met spesiale Piekniekdag uitstallings en dienste. Daarna het ek vir my 'n lekker roomys gaan koop en na die Mexikaanse musiekgroep geluister wat op die "East Quad Stage" opgetree het.


Ek het toe die veearts van hier wat onlangs in Suid-Afrika was hier raakgeloop, en ons is toe na Lake Spafford waar die "Battle of the Bands" aangebied is. Vier orkeste van verskillende universiteite kompeteer teen mekaar vir die orkes wat die langste kan aanhou speel, sonder om enige stuk wat gespeel word te herhaal. My gunsteling was UC Irvine se orkes - hulle tema was "Fantacyland" en hulle het regtig mooi gespeel. Ek is egter so 16:00 se kant daar weg en die orkeste hou glo aan tot na 22:00.


Wat my egter ook opgeval het, was dat ek nie een papiertjie of gemors gesien rondle het nie. Die terrein is as 'n "waste free area" verklaar - en niemand mors nie! (Kan net nie dink dat dit in Suid-Afrika sal werk nie!).


Daar was baie kinders, honde en lawwe studente! Inderdaad 'n lekker dag vir almal!

1 comment:

  1. Hallo Marguerite,jy het lanklaas geskryf! Hoe gaan dit nog met jou? Die dag klink baie prettig. Ek wens ons kon ons mooie Suid-Afrika ook as "Waste free" verklaar - die rommel in ons land pla my altyd so...!

    ReplyDelete