Friday, April 15, 2011

San Francisco





Vandat ek in California aangekom het, wou ek al San Francisco toe gaan, maar, weens die reen, is ek telkens afgeraai. Toe ek egter terugkom, na my besoek aan Philadelphia en New York, was California se lente behoorlik hier met sonskyn en bitter min wolke in die lug!


Dit was uiteindelik toe net die regte weer vir my om San Francisco toe te gaan! Sondag-oggend is ek baie vroeg na die Amtrak onder weg na San Francisco! Reeds met die eerste myl wat die trein Davis verlaat het, het my avontuur begin om 'n nuwe wereld te ontdek. Ek was nou al met die trein Sacramento toe, maar dit is die teenoorgestelde kant en hierdie was 'n nuwe omgewing vir my.


Soos ek al telkens genoem het, is Davis hoofsaaklik bekend vir sy boerdery bedrywighede. En behalwe vir die stalle op die Veeartsenykunde kampus en die baie produkte op die "Farmersmarket", het ek nog nie regtig plase gesien nie. Die plase hier is baie mooi - gesonde landerye, John Deere trekkers en die mooiste groen weivelde met swart, gesonde beeste (hier en daar is 'n paar bruines ook). En daar is baie water - ek dink net die Davis omgewing het meer water as die hele Suid-Afrika!


Ek het afgeklim by die Ferry Building en daar by 'n "coffeeshop" wat uitkyk oor die hawe, 'n koppie koffie en 'n pampoenmuffin geeet. Toe is ek reg vir die dag en het al langs die waterfront langs opgestap na Pier 39. Hier is baie oulike winkeltjies, restaurante en die vet, lui seeleeus wat in die son le en bak en "sing" - want jy hoor hulle voor jy hulle sien!


In een van die winkels het ek amper weer bewoe geraak toe ons eie sokker liedjie "It's time for Africa" (waka-waka) in een van die winkels gespeel het en ek vir 'n oomblik gewens het ek was terug op eie bodem!


Ek het toe van hier af aangestap na die Fisherman's Wharf en die Fort Mason park area - nogal 'n steil paadjie op - maar ek kon pragtige foto's van die Golden Gate brug van hier af neem. Daarna het ek bietjie deur 'n woongebied gestap, 'n vinnige draai in Chinatown gemaak en toe weer terug na Pier 39 vir 'n laat middagete. Ek kon nie glo die tyd het so vinnig verby gegaan nie, en net voor 5 uur is ek weer terug.


Ek het nie gedink ek sou San Francisco so gou weer sien nie, maar gister (Donderdag) het ek inderdaad weer die geleentheid gehad, toe die "faculty librarian" van die Carlson Health Sciences library, waar ek hierdie week deurbring, my genooi het om saam met haar UC San Francisco te gaan besoek. Dit is net 'n mediese kampus en hoofsaaklik net nagraadse studente in medies, tandheelkunde, aptekerswese en verpleegkunde en fisioterapie. Hier is 'n pragtige, moderne biblioteek met die beste fasiliteite. Hulle het onlangs die tweede vloer van die biblioteek opgegradeer en ingerig vir klaskamers met die nuutste tegnologie, 'n "technology commons" waar daar videos en "podcasts" en allerande tegnologiese goed gemaak kan word, en dan het hulle 'n "state of the art" simulasie area. Hierdie area lyk en voel soos 'n regte hospitaal met ondersoekkamers, teaters, ICU's, ongevalle afdeling, ens. Hulle gebruik modelle (poppe) wat soos regte mense lyk en wat deur 'n afstandbeheer deur die dosent gemanipuleer kan word om bv. te huil, of te bloei of op 'n sekere manier te reageer. Hulle kry ook van tyd tot tyd akteurs om as modelle op te tree. Baie indrukwekkend!


Nou ja, wie weet, miskien sien ek San Francisco gou weer....

No comments:

Post a Comment